"Gedigte van 'n Vaderland" deur FERDI GREYLING [boodskap #38561] |
Thu, 25 January 2001 13:15 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
GEDIGTE VAN 'N VADERLAND
DIE GROOT TREK
uit die blou baaie van die Kaap
met die brandende droom van vryheid
en die krag van hul woede
altyd noord die vreemde vasteland in
weg van die heerskappy van ander se denke
inperking deur vreemde tale en die vasweef
van mense, vlaktes en benaamde riviere in planne
wat die stempel van soldaat en regulasie kry
oor vlaktes soos kristalle onder die son voort
deur woude waar vreemde voëls in die nag roep
tot swart konings diep in die land
hul bloed met Afrika se grond meng
en hulle hard en bitter
in hulle eie beeld verstar
begin om die verskriklike land
in die wette van hulle vryheid te dwing
DIE TORING VAN BABEL
hulle kyk uit oor die land
hulle lag hardop
en waar hulle lag val
groei plante van vrees
hulle praat en hulle woorde
marsjeer soos soldate
deur die strate
hulle gedagtes dra uniform
die honde van hulle wil
blaf langs wette
wat soos doringdraad deur die dae span
in hulle agterkoppe
klik boeie inmekaar
hulle gaan saans huistoe
en sit agter die lessenaar van slaap
om hulle drome skoon te maak en te olie
hulle bou kasernes
hulle sê daar is julle huis
julle sal in planne woon
julle sal apart wees
met julle sal ons
God 'n toring van babel bou
KAAPSTAD '76
die polisie met haelgewere
die man wat die R1-koeël in sy heup gekry het
en die bergies wat aande
met hulle dronk gatte bergop trek
as die aandster in die hemel hang
gebreekte mense Jesus
jy was gebreek
en toe jy aan die kruis gepraat het
was dit om te sê hoe die skerwe jou sny in die kop
en toe het jy heel geword die derde dag
en gesê dat almal wat gebreek is
in jou heel sal word
Jesus van die polisie
en die bergies
en hulle wat bitter en brandend is
is jy toe uiteindelik
bybel toe verban
waar jy in die woestyn van Judea
bladsye en bladsye afstap
en in slothoofstukke opvaar
na kaarte agter in die bybel toe?
BISHO
In die argumente van 'n skare mense
wat by Bisho bult uit marsjeer
agter vet Pancho aan
Sy vlag slaan
Bloedrooi
teen die stofblou lug
met die massa wat agter hom
soos water tussen die huise
en oor die pad vloei. In die argument
van harde mense in ysterkarre op die bult.
Hul uniforms glimlag om koue gesigte.
Konklusies breek die lug met knalle
Boosheid slaan soos reën in die stof
want metaal ruk lywe oop
en bloed en grond sit skielik vuil aan 'n wit hemp vas
by die stadion in Bisho.
In die arms van die rede dan
val die gebreekte mense
van die stadion by Bisho.
En elders.
Hulle sal dwaal in die kamers van die geskiedenis.
Hulle sal die onwaardigheid beërwe
om die sluwe argumente van leiers te illustreer.
|
|
|